Wat sien mense in jou oë?
Daar word dikwels gesê: “Jou oë is die vensters van jou siel.”
Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.” (Luk 11:34)
Is jou oë stralend en vol lig? Kyk jy soos Jesus na mense, met oë vol liefde, deernis en jammerte. Hoeveel warmte en simpatie is daar in jou oë? Het jy vriendelike oë wat belangstel en dieper probeer kyk, of kyk jy onbetrokke en met donker versluierde oë, minagtend na die wêreld en die mense om jou? Is jou oë koud en vol wantroue, haat of hoogmoed?
“Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van kwaad, 'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers”. (Spr 6:16-19)
Wat sien die Here Jesus as Hy in jou oë kyk? Versag Sy oë miskien met ‘n glimlag? Of kyk Hy deur Sy trane na jou?
Alta